Gesellige gesinswoning in die voorstede

As daar ’n rokie trek in die Kaapse buurt Eversdal, is dit waarskynlik die Naudes wat braai, want in dié gesinshuis knetter die vlamme tot vier keer per week.

0615-Gesinswoning-Eversdal-Naude-1

Die braaikamer is die hart van die gesellige Naude-huishouding en almal se gunsteling-kuierplek. Hier is Trevor en Diaan Naude saam met Bernard (links) en John. Buite die kombuis is ’n kruie-en-groentetuin waar onder meer basilie, tamaties en boontjies lekker hoog staan in hul kiste. “Dis suiwer geluk en ons tuinier, oom Nelson Jacobs, se groen vingers,” sê Diaan. Fokusmuur geverf met Midas Earthcote Fresco in die kleur Licorice; rottangmeubels en hanglampe van Weylandts; gebreide kombers van Woolworths.


Deur
Marian van Wyk • Foto’s Justin Patrick

Die lewe het soms ’n manier om dinge gelyk te laat gebeur, en 2006 was so ’n jaar vir Trevor en Diaan Naude. Elkeen het uit hul onderskeie werke bedank en hul eie besigheid begin: die bou en installering van kombuiskaste. En net mooi toe die tweede slaapkamer hul tuiskantoor word, daag Bernard op.

“Ons het letterlik uit ons nate begin bars by ons vorige huis, maar nogal lank gesoek voordat ons in September 2007 dié een gekoop het,” vertel Diaan. Dit het die ekstra ruimte gehad waarna hulle op soek was, maar dit was veral die ruim, welige tuin wat die knoop deurgehak het. Desember van daardie jaar het hulle ingetrek en twee jaar later het hul jongste, John, sy opwagting gemaak.

“Ons motorhuis was ons eerste fabriek!” vertel Diaan. Dié is deesdae in Brackenfell en hulle het die motorhuis in ’n tuiskantoor omskep. Hulle het heelwat mure in die huis uitgebreek sodat al die leefvertrekke in ’n oop plan by mekaar aansluit, en drie vertrekke aangebou: ’n opwasvertrek langs die kombuis, ’n nuwe en suite-badkamer by die hoofslaapkamer, en die braaikamer waar voorheen ’n stoep was.

Hulle het ook die kombuis nuut ingerig. Maar hoe gemaak met twee kombuisontwerpers onder een dak? “Ek en Trevor vul mekaar goed aan. Hy is die praktiese een en ek die estetiese een. Nietemin kon ons glad nie ons eie kombuis ontwerp nie!” vertel Diaan laggend.

“ ’n Vriendin wat ook ’n kombuisontwerper is, Elizma Kohne, moes inspring en help, net sodat ons ons minds kon opmaak!”

0615-Gesinswoning-Eversdal-Naude-4

0615-Gesinswoning-Eversdal-Naude-6

Die kombuis skakel naatloos met die eetkamer, TV-kamer en opwasvertrek. Kombuis gebou deur Bascule Joinery; teëls van Italtile; hanglampe en Monte-kabinet van Weylandts

Mooi én prakties

In die wintermaande migreer die gesin soos swaeltjies na die warmste plek in hul huis, die braaikamer. Dan maak hulle ’n tafel voor die vuur staan waar hulle bordspeletjies speel, saam aandete eet en kuier.

“Braai is Trevor se ander beroep,” grap Diaan. “Ons moes daarom ’n braaiplek inrig wat meer gereeld as die stoof in die kombuis gebruik word.”

Hoewel dit ’n aantreklike vertrek met aardse teksture en ’n sagte palet is, het Trevor dit baie prakties beplan. “Die lig in die braai is vir my baie belangrik en so ook die granietwerkvlak regs, waar ek higiënies met vleis kan werk.” Al waaroor Trevor spyt is, is dat die stapeldeure verkeerdom oopmaak vir die Kaapse suidooster.

Die pakplek het Trevor ingerig sodat alles byderhand is en nie afbreuk doen aan die oopplan-vertrek nie. “Ek kan my braaigereedskap onder die braai agter klein deure toemaak sodat dit altyd netjies lyk. Die hout word onder die werkvlak en bankie gestapel en is altyd byderhand; dit lyk ook mooi,” sê hy. Hy het onlangs die skoorsteenhaan met ’n industriële Whirlybird-ventileerder vervang, waarmee hy baie tevrede is. “Nou ruik ons huis nooit na braairook nie.”

Diaan voeg by: “Ons braai tot vier keer per week. Trevor sal altyd vra wat ek vir aandete beplan en dan redeneer hy as jy die kos in die oond kan gaarmaak, kan jy dit mos maar braai ook,” sê sy. “Hy sit letterlik enigiets op die kole, maar vir Vadersdag sal Ma en seuns ’n spesiale hoenderbraairesep moet optower, want dis sy gunsteling,” sê Diaan.

0615-Gesinswoning-Eversdal-Naude-3

0615-Gesinswoning-Eversdal-Naude-7

0615-Gesinswoning-Eversdal-Naude-8

’n Muur vol gesinsfoto’s skep karakter in die TV-kamer, wat glasskuifdeure na die braaikamer het. Die eetkamer is oop na die braaikamer – ’n pluspunt in Trevor en Diaan se kuierhuis. Met sy oopplan-ontwerp het die huis ’n gemaklike vloei. Uit die speelkamer kan jy deurstap na die TV-kamer en dan die kombuis, en die skuifdeure agter by die opwashoekie gee jou toegang tot die kruietuin. Tafel van Koöperasie Stories; stoele van Coricraft; plakpapier gedruk deur ArtLab
Die hoofslaapkamer het ’n neutrale palet met ’n rustige gevoel. Trevor en Diaan se liefde vir hout word ook in die en suitebadkamer langs die hoofslaapkamer gesien (regs). Duvet, kunspelskussing en -deken van Woolworths; leerkopstuk, bedkassies en wasbakkas (regs) deur Bascule Joinery; vinielvloer van Albert Carpets

Die dekor

Modern, dog aards, is hoe Diaan en Trevor hul dekorstyl beskryf. Die swart leiklipvloer is klassiek, maar ook prakties met twee jong kinders in die huis. Dit skep ’n neutrale agtergrond vir die spatsels helder kleure.

Hul liefde vir hout is deur die hele huis te sien – van die voordeur, deur die moderne kombuis met sy ouwêreldse kas; in die braaikamer, waar stapels hout ’n treffende fokuspunt vorm; tot doer agter in die hoofbadkamer waar ’n wasbakkas van Amerikaanse eikehout teen die muur gemonteer is.

“Ons is huislike mense en lief vir die tekstuur en warmte van hout,” sê Diaan. “Dit kontrasteer mooi met die koel kleure, soos die blou muurteëls in die kombuis, en die harde oppervlakke, soos die swart leiklipvloere.”

Vir die Naudes gaan dit ook oor ’n balans: “Die kwartswerkvlakke sou baie koud gelyk het sonder die eiland se houtblad en die groot losstaande houtkas,” verduidelik Diaan. Soos dit hoort in ’n huis wat warm is, veral as die vure brand …

Die vloei tussen die kombuis en leefvertrekke werk wonderlik met die seuns. Die televisiekamer loop uit die kombuis en na hul speelkamer. – Diaan