Gebou met ’n gewete

Dié wegbreekplek in die Vrystaat het geen munisipale of kragaansluitings nie – maar hy’t houding en vrede op aarde.

tuis September 2013 

Gewete MAIN

Wessel van Huyssteen wou ’n moderne groen, moeite- en onderhoudvrye toevlugsoord (wat nie te veel sou kos nie) op Rosendal in die Oos-Vrystaat hê; ’n plek waar dié vervaardiger van dokumentêre films na hartelus kan dink en skep. “Die erf is hoog op ’n heuwel aan die buitewyke van die dorp,” vertel Daniel van der Merwe, die argitek. “’n Huis hier sou redelik sigbaar wees, maar ook die wonderlikste uitsigte oor die dam en die omliggende landskap bied.” Daniel het dié stewige, maar kostedoeltreffende vakansiehuis so ontwerp dat dit die panoramiese uitsigte ten beste vertoon en maklik op ’n later stadium vergroot kan word.

Natuurlike habitat
“Ek het op ’n plaas grootgeword en was maar altyd omring deur plaasskure; dis seker daarom dat die Australiese skuurargitektuur vir my so ’n bekoring inhou,” verduidelik Wessel die besonderse ontwerp. Daniel se voorstel aan sy kliënt het op dié inspirasie gebou deur die vorms, volumes en materiale van geboue wat tipies in die landskap voorkom, te inkorporeer. “So is die gebou kontekstueel met die argitektuur van die landskap verbind sonder om ’n “Gold Reef City” namaaksel van die volksboukunde van die streek te wees, maar terselfdertyd ook modern en kontemporêr sonder om soos ’n seer duim teen die dorp se argitektuur uit te staan,” verduidelik dié argitek wat altyd die omgewing waarin hy werk, in ag neem. Die aanvanklike idee agter die struktuur was tweeledig: Daniel het eers bepaal watter basiese boumateriale en -tegnieke in die omgewing gebruik word (onder meer sandsteen, staal, hout, strooi en sinkplate); daarna het hy die vaardighede wat in die omgewing beskikbaar was oorweeg (dié hou meestal verband met die bou van tradisionele sandsteenmure vir krale en ander geboue). Daniel, wat self ook ’n huis op Rosendal het, was die aangewese persoon vir die projek. Hy het immers begrip vir die konteks, die klimaat en plaaslike hulpbronne – iets wat onontbeerlik was tydens die ontwerpproses. “Danksy die oordeelkundige gebruik van goedkoop materiale en tegnologie kon ons die boukoste tot sowat R550 000 beperk,” onthou Daniel.

Die ruimtes tussen ons
Hoewel die huis aanvanklik met twee slaapkamers ontwerp is, het dit later in meer van ’n oopplan-leefarea ontwikkel ter wille van beter vloei. “Die dubbelkantige kaggel vorm ’n fokuspunt in die ruimte en dien as skakel tussen die kombuis en die sitkamer; dis groot genoeg om vir kosmaak en vir verhitting ingespan te word,” wys Daniel, wat die kombuis reg langs die badkamer geplaas het sodat die twee areas die water- en gastoevoer kon deel. Dié dienskern skep ’n buffer tussen die meer openbare leefruimte en die hoofslaapkamer.
’n Eenvoudige enkelvlerkdak het die koste van dakbalke beperk en maak dit moontlik om reënwater in tenks agter die huis op te vang. Terselfdertyd kon die struktuur na die noorde “oopmaak” om die volle panorama van die landskap in te neem; nou kan die winterson die huis warm maak, terwyl koel lug in die somer kan sirkuleer. Op die dak is sonkragpanele agter ’n afdak oor die ingang versteek; dit verskaf krag vir ligte en toestelle. Die plafon is hoog genoeg om ’n dek met ekstra slaapplek te akkommodeer. Dit pas knus bo die badkamer en is perfek vir gaste wat nou en dan oorbly. Aangesien die kombuis as ’n integrale deel van die ruimte ontwerp is, het Wessel die kaste in ’n trapvorm ontwerp om toegang tot die tussenvlak te verskaf; dis deur ’n plaaslike skrynwerker gebou.

Die binneversiering in die ruim dubbelvolume- leefarea is manlik, sonder om dominerend te wees. “Dis basies ’n skuur, en Wessel kan die spasie met verloop van tyd in ’n L- of U-vorm uitbrei, afhangende van sy behoeftes,” verduidelik Daniel. Hy self is dol op die gerieflike, aardse, dog industriële voorkoms wat Wessel gekies het. Die meeste van die meubels is deur plaaslike vakmanne gemaak of by tweedehandswinkels in die omgewing gekoop, vertel Wessel. “Die tafel is byvoorbeeld die handewerk van ’n skrynwerker van die buurdorp Ladybrand.”
Maar dis buite waar die eintlike betowering lê. “My droom was om ’n ten volle inheemse tuin te hê,” verduidelik Wessel, “en hoewel die meeste plante wel inheems is, het ek ook ’n paar eike- en wilgerbome geplant, omdat min ander bome hier in die koue sou aard.”

Hy is stadig maar seker besig om endemiese lelies soos Crinums, Kniphofias, Eucomis, swaardlelies en varkore in die tuin te hervestig vir kleur in die graslandskap. Daniel glo ook dat dit die dinge rondom die huis is wat dit so spesiaal maak. “Die landskap hier is so dramaties en het soveel betekenislae dat jy nooit verveeld hoef te wees nie,” lag hy, in verwondering met die spirituele aard daarvan. Saam het die twee die perfekte toevlugsoord geskep waarheen Wessel kan ontvlug en sy skeppende energie kan herlaai.

Groen riglyne
Daniel gee wenke vir die bou van ’n ekovriendelike huis
• Hou by eenvoudige tegnologie en vermy ingewikkelde stelsels wat maklik onklaar kan raak.
• Leer uit die volksboukunde – dit is oor eeue heen ontwikkel deur mense wat baie nouer met hul natuurlike omgewing verbind was.
• Ontwerp die hele terrein – elke liewe vierkante meter daarvan – en moet nêrens dooie spasie laat nie. Maak seker elke plek het ’n doel, hetsy om ’n groentebedding, ’n komposhoop of ’n leesplek te wees.
• Hou die interaksie tussen binne- en buiteruimtes deurentyd in gedagte.
• Put die inspirasie vir jou kleurpalet uit die onmiddellike natuurlike omgewing.
• Vermy duur ingevoerde materiale en kyk liewer uit vir plaaslike produkte; maak ook van plaaslike vaardighede of tegnologie gebruik.
• Ruimte is die toppunt van weelde; stel ’n professionele persoon aan om dit optimaal te beplan – op die lang duur gaan dit jou geld spaar.

Groot vensters van die vloer tot die plafon omraam die panoramiese uitsig.

Wessel kweek sy eie groente, wat hom so te sê selfversorgend maak.

Reënwater word in ’n tenk agter die huis opgevang.

Retro-vondste in vuurrooi kleurspatsels gee trefkrag.

Dié Rosendal-huis skakel perfek in by sy omgewing.

In die somer boer Wessel en sy vriende op die dek waar hulle eet en gesels en die buitelug inadem.

Die kaggel met sy openinge na die kombuis en die leefarea is perfek vir kosmaak én warmmaak.