Een vertrek, 3 moontlikhede

TV-kamer is gelyk aan gastekamer

Jy kan jou TV-kamer in ‘n ommesientjie in ‘n knus gastekamer omskep deur net ‘n bietjie meubels rond te skuif en die dekor aan te pas. So doen jy dit:

  • Steek ‘n ongemaklike muur weg deur die TV-kas daarvoor staan te maak.
  • Laat die sofa in die rigting van die TV wys.
  • As jou rusbank nie baie gemaklik is nie, kan jy in ‘n sofabed belê. Dit verskaf ruim sitplek én ‘n bed waarop jou gaste voor die TV kan opkrul.
  • Sit sytafeltjies aan weerskante van die sofa sodat hulle as bedtafeltjies gebruik kan word. Maak seker dis groot genoeg vir ‘n lamp en ‘n boek of twee.
  • Gooi ‘n wollerige mat op die vloer om die vertrek warmte te gee; die donker skakering sorg hier vir diepte en ‘n ontspanne, informele gevoel.
  • Koop ‘n koffietafel wat jy maklik kan rondskuif as jy die vertrek in ‘n gastekamer wil verander.
  • ‘n Opvoubare stoel verskaf ekstra sitplek of dien as neersitplek vir oorgooidekens of ‘n oornagsak.
  • Rond die vertrek af met strooikussings, oorgooidekens en kerse in kleure wat die kunswerke en meubels komplementeer – nou het jy ‘n vertrek wat jy elke dag as TV-kamer kan gebruik óf blitsvinnig in ‘n oase vir ‘n moeë reisiger kan omskep.

Heerlike onthaal

Heerlike onthaal

‘n Onthaalvertrek moet genoeg beweegruimte toelaat, maar tog ook knus wees. Verander jou woonvertrek in ‘n ruimte propvol sofistikasie – perfek vir onthaal. So doen jy dit:

  • Skuif groot meubelstukke, soos die rusbank, teen die muur sodat jou gaste vryelik kan rondbeweeg.
  • Gebruik twee elegante stoele vir ‘n tikkie sofistikasie en om aparte sitplek te skep sodat jou gaste lekker kan gesels.
  • Skuif ‘n sytafeltjie tussen die twee stoele in en nog een langs die rusbank waarop mense hul bordjies en glase kan neersit en waarop jy kerse kan pak vir atmosferiese beligting.
  • Plaas jou koffietafel op ‘n klassieke los mat; hier help die glasblad om die illusie van ruimte te skep.
  • Sit ‘n staanlamp in die hoek tussen die stoel en die rusbank vir warm, intieme beligting as die geleentheid daarna vra.
  • Sorg vir ekstra sitplek met ‘n veelsydige opvou-leerstoel – dit neem nie baie plek op nie, is lig en maklik om rond te skuif – of bêre dit as jy dit nie nodig het nie.
  • Gebruik bykomstighede spaarsaam sodat die ruimte oop en skoon is en gaste ongehinderd kan gesels.

Ruskansie

Ruskansie

Skep ‘n rustige hoekie waar jy met ‘n boek kan opkrul – of sommer net tot verhaal kan kom terwyl jy die warmte en uitsig van ‘n snoesige
vertrek geniet. So doen jy dit:

  • Skuif die rusbank sodat dit na die venster kyk en jy op ‘n sonnige dag die uitsig kan geniet en die beskikbare lig kan benut.
  • ‘n Gemaklike stoel (en ‘n ottoman of stoeltjie om jou voete op te rus) langs die venster is die perfekte plek vir lees of om ‘n uiltjie te
    knip. Hou ‘n oorgooideken en strooikussing byderhand sodat jy behoorlik kan opkrul.
  • Die staanlamp sorg vir genoeg lig – net reg vir lees op ‘n donker winternamiddag of saans.
  • Twee los stoele kan teenaan mekaar geskuif word om ‘n tweesitplekbank te vorm en net so maklik weer uitmekaar geskuif word as jy aparte sitplekke wil hê.
  • Sit die sytafeltjies aan weerskante van die stoele sodat jy boeke en dekor-items daarop kan sit wat die vertrek karakter en lewe gee.
  • ‘n Dekoratiewe koffietafel met ‘n glasblad laat die vertrek ruim voel en weerkaats die lig in die vertrek – en dis net die regte plek om stomende bekers warmsjokolade en ‘n bakkie met malvalekkers op neer te sit.
  • Die wollerige mat wat in die gaste- en TV-kamer gebruik is, gee die vertrek ‘n knus en ontspanne gevoel.