Duvets en Kussings

 

 

 

 

 

 

 

 

Dons of vere?

  • Koop ‘n duvet wat een grootte groter as die bed is. Dit lyk luukser en bied meer duvet waaronder jy kan opkrul. As jy dus ‘n dubbelbed het, koop ‘n duvet van koningingrootte.
  • Gebruik twee kussings per persoon. Dis lekker as die agterste kussing ‘n luukse 50 x 90 cm groot en die voorste een die standaard-grootte van 45 x 70 cm is.

Wat is wat?

Dons of vere

‘n Goeie vere- of donsduvet pas by jou liggaamstemperatuur aan. Goedkoper duvets kan van herwonne vere gemaak wees, en is nie van dieselfde gehalte as dié van vars vere nie. Jy kry ook ‘n ligter en swaarder duvet wat aanmekaar vasmaak. In die somer kies jy net die ligter een en in die winter albei.

Sinteties

Sintetiese vulsels is goedkoper en ideaal vir mense met allergieë. Holveselvulsels vang lug vas – vandaar hulle opgepofte voorkoms. Dié van poliëster sal platter wees. Sintetiese stowwe is minder isolerend as natuurlike vulsels.

Voordele

Dons of vere

Vere en dons is in die winter goeie hitteïsoleerders, en in die somer koeler as poliëster. Dink so daaraan: Eende dra hulle vere heeljaar! Die donsinhoud beteken dat dié duvetvulsels ook lig is, wat ‘n gerieflike nagrus verseker.

Sinteties

Die prys is die grootste voordeel – dis baie goedkoper as natuurlike produkte. Hol vesel het isolerende eienskappe wat dit heerlik warm maak in die winter. Die grootste voordeel is egter vir mense wat allergies vir vere en dons is.

Nadele

Dons of vere

Sommige mense is allergies vir vere en dons. Vooraanstaande verskaffers behandel hul vulsels met ‘n anti-allergeniese middle wat deur die SABS goedgekeur is. Kyk uit vir dié inligting op die verpakking.

Sinteties

Dit is nie ‘n natuurlike produk nie, maar as jy ‘n gehalteproduk by ‘n betroubare verskaffer koop, kan dit ook jare lank mooi bly. In die warm dele van SA kan sommige sintetiese vulsels in die somer te warm of swaar wees.

Skoonmaak

Dons of vere

Hang jou vereduvet gereeld uit om in die son te bak. Was dit jaarliks in die bad en laat dit plat droog word. Vermy te warm water, aangesien die vere reeds vooraf teen hoë temperature gereinig is.

Sinteties

Hoewel die etikette van baie sintetiese duvetvulsels sê dit is masjienwasbaar, is dit veiliger om dit met die hand te was en plat te laat droog word.

Bedlinne

Koop die beste lakens en slope wat jy kan bekostig. Natuurlike materiale soos katoen haal asem en absorbeer liggaamsvog. Perkalkatoen is nog ‘n stap luukser: Dié fyngeweefde katoen is warm in die winter en koel in die somer. Koop linne met die hoogste draadtelling. Dit verwys na die getal drade in ‘n 2,5 cm-blokkie van die weefstof, en ‘n hoër telling dui op ‘n beter gehalte. Die standaard-telling is 180 tot 200, terwyl 300 en meer topgehalte is. Hou jou bed higiënies met beskermende matras- en kussingoortreksels.