Durbanse gesinshuis vol kleur

Van die gewaagde kombinasies van patrone tot die besonderse muurkuns, dié huis is ’n ware weerspieëling van die eienaars se energieke persoonlikhede.

Deur Marian van Wyk Foto’s Francois Oberholster

“Ons huis ís Mike en Jane,” sê Jane Linley-Thomas van die vrolike drieslaapkamerhuis wat sy deel met haar man, Michael Thomas, hul seun Cooper (6) en die tweeling Rocco en Lula (4).

Slider loading...













Inderdaad. Die huis beeld die paartjie se liefde vir kleur uit en is ’n verlengstuk van Jane se innemende persoonlikheid. Sy is ’n omroeper by East Coast Radio, ’n seremoniemeester, openbare spreker en aanbieder van die Mom’s Heart-ouerskapsplatform en -app wat veilige en inklusiewe inhoud, musiek en vermaak bied vir ouers en kinders van geboorte tot 10 jaar oud (laai dit gratis af by die iStore of Google Play, of besoek momsheart.co.za). Mike is ’n projekbestuurder in die telekommunikasiebedryf.

Dit was aanvanklik glad nie maklik om die regte huis vir hul groeiende gesin te kry nie. “In 2014, nadat ons talle huise besigtig het, was ek moedeloos. My ma het die soektog oorgeneem en sy het ’n dag later dié huis gevind. Toe ek voor die huis stilhou, het ek geweet my hart sou breek as dié huis nie myne word nie. Dit was liefde met die eerste oogopslag,” sê Jane.

“Dit het al die regmerkies gekry. Dit was ’n goeie gesinshuis met die houtvloere wat ons nog altyd wou hê, net ’n hanetree van waar ek grootgeword het. My kinders woon nou my ou skool by en geniet dieselfde tradisies wat ek in my kinderjare ervaar het, soos om die Comrades-roete te stap en ’n tafel en stoele staan te maak –met ’n bietjie vonkelwyn, natuurlik – waar ons die deelnemers aanspoor.”

Die paartjie het geen strukturele veranderinge aan die huis gemaak nie, maar het verf met groot sukses gebruik om die ruimte hul eie te maak. “Ek en Mike is dol oor helder kleure en is nie bang om patrone en teksture te meng nie. Ons hou van kuns, oulike vondste van oraloor en kombineer graag oud en nuut,” sê Jane.

Dis moeilik om haar dekorstyl saam te vat. “Ons werk meestal op gevoel wanneer ons vertrekke mooimaak. Mike is die praktiese een; hy maak en herstel meubels, terwyl ek fokus op die dekor en samestelling van die ruimte, so ons is ’n gedugte span!

“Ek het nie ’n gunstelingvertrek nie, want elkeen het sy bepaalde funksie en sjarme. Die sonnige eetkamer is soggens voor skool woelig, saans is daar etes vir twee, en naweke is die huis vol gaste wanneer ons braai. Ons bring baie tyd op die stoep deur en sit graag langs ’n knetterende vuurtjie met ’n glas rooiwyn.

“Elke item in ons huis het ’n geskiedenis; ons ruimte vertel die verhaal van die lewe wat ons deel. Daar is vir my min dinge so lekker soos om hier te wees saam met vriende en familie, of dit sonnige dae langs die swembad of knus fliekaande langs die kaggel is.”

LEES NOU:

'n Ou Amanzimtoti-huis met 'n warm hart

‘n Ou Amanzimtoti-huis met ‘n warm hart

 

WEB-FOOTERS-afr