Die koste van groen leef

Het jy nog altyd gedink dat groen keuses te duur is? Ons het by Rayne Neave, die eienaar van Eco Exhibit, ’n groen-uitstallokaal in Northgate, Kaapstad, gaan kers opsteek.

[divider]

1 V: Hoekom is baie van die tradisioneel “groen” produkte so duur?
Groenboumetodes is nie noodwendig duurder nie. Maar ons moet met nuwe oë kyk na “hoeveel huis”ons werklik nodig het. Indien ons die ontwerp van ’n ons huis vereenvoudig, algehele koste besnoei en meer geld bestee aan beter gehalte, duursaamheid, energiedoeltreffendheid en groen eienskappe, kan die uiteindelike boukoste selfs laer wees! Hoe beter jou kontrakteurs met groen ontwerp vertroud is, hoe groter is jou kanse om dié doel te bereik. Dit mag wel voel of ons aanvanklike uitgawes aan energiebesparende elemente hoër as nodig is, maar dis omdat ons nog nie daardie kopskuif gemaak het om daarvoor te begroot nie. Dit sal wel nog kom, en eersdaags gaan ons dié kostes outomaties en as vanselfsprekend by ons boubegroting insluit. Die voordele van so ’n benadering oorskry die nadele by verre – soos jou krag- en waterrekening van die begin af, en die toegevoegde waarde tot jou belegging op die lang termyn, sal bewys. Maar tot tyd en wyl die vraag na groen boumateriale groter word, sal ons ongelukkig op ingevoerde produkte aangewese bly om daarin te voorsien. En dit bring nie net groter finansiële koste mee nie, maar ook ’n groot koolstofvoetspoor. Ondersteun dus plaaslike ondernemings, kies groen en help so om ’n “groen ekonomie” te vestig.

2 V: Hoe kan ek my daaglikse inkopies groener maak?
• Kies groter verpakkings en verdeel die inhoud sodra jy tuiskom in kleiner porsies wat jy in herbruikbare houers bêre.
• Vind uit waar jou plaaslike boeremark is en ondersteun dit. So kry jy nie net varser produkte nie, maar skakel jy ook verpakking uit. Koop ook net produkte in die seisoen.
• Probeer om ’n weeklikse spyskaart op te stel voor jy winkel toe gaan en let op watter groentes in meer as een gereg gebruik kan word.
• Gebruik herwonne of herwinbare verpakking wat jy weer tuis kan gebruik of by ’n herwinningspunt kan aflaai.
• Daar is deesdae verskeie veilige, omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels op die mark. Die produkte bevat geen fosfate, skadelike chemikalieë of vlambare gifstowwe nie. Alternatiewelik kan talle huishoudelike middels, soos koeksoda, asyn, mielieblom, suurlemoensap en sout ook vir skoonmaak ingespan word.

3 V: Waar begin ek?
Dis makliker om geleidelik, met een of twee veranderinge, te begin.
• Herwinning is jou eerste stap. Talle skole en gemeenskapsentrums het al aflaaipunte vir herwinbare artikels, of kyk aanlyn waar jou plaaslike herwinningsdepots is. Sommige maatskappye sal jou herwinbare afval selfs teen ’n nominale bedrag afhaal.
• Verbind ’n filter met jou kombuiskraan en koop minder gebottelde water. Gebottelde water is glad nie ekovriendelik nie, en Suid-Afrika se kraanwater is van uitstekende gehalte.
• Enige kosreste kan vir kompos gebruik word. Begin ’n wurmplaas of, indien jy op die boonste verdieping van ’n woonstelblok bly, installeer ’n kombuisafval-meul onder jou wasbak om alle kosreste weg te voer.
• Skakel toestelle wat nie gebruik word nie, af. Oorweeg dit om ’n monitor aan te skaf wat enige elektroniese toerusting sal afskakel wanneer dit nie in gebruik is nie. Gebruik lap-doeke pleks van kombuispapier. Plant ’n groente-en-kruietuin – dit beteken jy hoef nie verpakte produkte te koop nie en doen wondere vir jou kookvernuf. Boonop hou dit estetiese waarde in, wat jou lewensgehalte verhoog.
• Onthou: Geen stap is ooit te klein nie!

IMG_5440