Februarie is sinoniem met liefde. Rooi harte versier winkelsentrums, liefdesliedjies verswelg die radio en romantiese etes vir twee word oral geadverteer. Jaar na jaar eis die druk om te verras sy tol op my goeie bedoelings vir Valentynsdag en maak ek ‘n floppie van die hele ou storie. Dié jaar het ek ‘n plan van aksie wat skrik vir niks.
Dit klink dalk nie so nie, maar eintlik hou ek van Valentynsdag. Ek hou van die idee van ‘n dag gewei aan liefde en passie. Of dit nou ‘n liefde vir lekker kos, goeie wyn of iemand spesiaal is, ‘n bietjie kwaliteittyd saam met jou passie klink vir my soos ‘n bak plan. Dit is net spesifiek op 14 Februarie dat my planne nie altyd uitwerk soos dit moet nie. Byvoorbeeld: Vir ons eerste Valentynsdag saam het ek vir my man sappige botterviskebabs gemaak met geroosterde vinkel en fondantaartapels, net om uit te vind hy verkies eintlik stokvis. Die tweede jaar het ons ‘n meningsverskil gehad oor waar om te gaan eet wat my laat wonder het of ons romanse hoegenaamd die paal gaan haal.
Dié jaar is ons gelukkig gered van nog ‘n onderonsie deurdat ons genooi is na ‘n romantiese ete vir twee by Pierneef á La Motte in Franschhoek. Geen besluitneming nodig behalwe wat ons wil bestel om te eet nie. My mond water as ek dink aan die Biltong-en-kreefslaai onder die keuses vir voorgereg en dit gaan moeilik wees tussen die biefstuk met sampioen-en-hanepootsous en die bokkaas-ravioli vir hoofgereg te kies. Ons het dus geen verskoning om nie onsself gate uit te geniet en dié jaar ‘n lekker Valentynviering te hê nie. (Gelukkig is daar ook nie bottervis op die spyskaart nie, ‘n baie goeie begin!) Loer weer bietjie môre vir foto’s van die ete. Ek kan nie wag nie!

Besoek www.la-motte.com as jy dalk ‘n romantiese ete van jou eie beplan. Die skone Franschhoek bly nou een maal ‘n pragtige bestemming.
Pierneef á La Motte
021 876 8800
R45 Main Road, Franschhoek












Kook en wen R200 000!

Nog geen kommentaar.