Soveel plek, soveel groente

Die hoeveelheid ruimte wat jy het, bepaal wat jy kan kweek. Dit help nie om ’n pampoen in ’n balie te plant en vir niks anders plek te hê nie!

[divider]

• As jy min plek het, kweek blaarslaai, mosterdslaai, spinasie en seldery en plant maklike kruie soos basiliekruid, pietersielie en koljander. Plant net een of twee plantjies van elk in ’n bepaalde blok in jou bedding of in jou houer.

[divider]

[divider]

 

• As jy meer plek het, sit wortels, beet, broccoli, blomkool, preie en tamaties ook op jou lys. Kruie soos roosmaryn, tiemie en salie kan tussenin geplant word.

• As jy baie plek het, is jy reg vir botter- skorsie, pampoen, komkommers, mielies en selfs waatlemoene. Nou kan jy ook na hartelus kruie plant en sal jy heel moontlik ’n groot genoeg oes vir jou bure ook hê.

ONTHOU As jy saad of plantjies van elke soort oor ’n paar weke versprei, sal jy oor ’n langer tyd ’n verskeidenheid groentes hê om te oes en so ook minder vermors. Want wie wil nou weke lank net wortels eet?

WENK Baie groente, en veral tamaties, werk goed in potte en houers. As jy dus nie grond vir ’n groentetuin het nie, kan jy steeds verskeie gewasse in ’n geskikte houer kweek. Onthou net hoe groter die houer, hoe beter.

 

Peste en plae

Geen groentetuin is sonder peste en plae nie, maar as jy ’n gesonde voedselketting in jou tuin het, sal geen plaag sommer die oorhand kry nie. Sodra jy begin gif spuit word die ketting verbreek en ontstaan ’n wanbalans. Indien jy wel ’n spuitstof moet gebruik, kies ’n organiese middel vir die bepaalde plaag (’n algemene spuitstof sal onskuldige insekte ook doodmaak). Jenny het die afgelope 13 jaar geen gifstof organies óf chemies – gebruik nie; tog het alle plae en siektes grootliks uit haar tuin verdwyn. Sy glo daar is genoeg ander maniere om van plae en peste ontslae te raak, en stel die volgende voor:

• Jy kan die skuldiges met die hand vang. (Ja, moenie gril nie!)

• Gebruik ’n net om die voëls uit jou vrugte en groente te hou.

• Lok insekvretende voëls deur vir hul kos op voerborde te sit. Jenny plant ook blomme om insekte en voëls te lok.

• Maak ’n waterfokuspunt naby jou groentetuin en lok so naaldekokers wat die skadelike insekte vreet.

• Sit ’n verrotte houtstomp daar naby neer; die reptiele en insekte wat dit lok, sal weer ’n feesmaal maak van die skuldiges.

• En as dit nodig is, kan jy Jenny se tuisgemaakte spuitstof aanmaak.

 

Dink groen!

Deur jou eie spuitstof aan te maak, hergebruik jy ’n glashouer en is daar ook nie verpakkingsmateriaal soos by gekoopte middels nie. So beperk jy sommer ook jou koolstofvoetspoor.

[divider]

[divider]

[divider]

KONTAKTE

• Mikro-organismes:

naturalgardeningprinciples.co.za

• Organiese en outydse saad: livingseeds.co.za, mahlathiniorganics.co.za en thegravelgarden.co.za

• Waterwys wenke: randwater.co.za