Kweek ‘n koolstofslim oase

Het jy geweet tuiners  kan ‘n noodsaaklike rol speel om die negatiewe uitwerking van klimaatverandering teen te werk?

Dis wat jy kan doen..

[divider]

 

Ons almal besef watter enorme impak die mensdom op ons planeet het en hoe oormatige hoeveelhede koolstofdioksied (CO2) in die atmosfeer lei tot aardverhitting – wat weerpatrone reg oor die wêreld beïnvloed. Die oplossing

is om maniere te vind om koolstof in die atmosfeer te verminder en eerder meer daarvan in die grond, plante en oseane te berg. Hoewel jy skadelike gasse kan verminder deur energie en vervoer meer oordeelkundig te gebruik, kan tuiniers ook ’n noodsaaklike rol speel om koolstofvlakke in toom te hou.

 

Doen só jou deel:

Bewaar die natuurlike habitat

Wanneer jy bou of ’n nuwe tuin begin op ’n terrein waar natuurlike plantegroei voorkom, moet jy tot elke prys vermy om voor die voet inheemse plantegroei te verwyder. Dit neem 10 minute om ’n boom af te kap wat al jare groei – en groot hoeveelhede koolstofdioksied opneem.

 

Plant bome

Bome neem koolstofdioksied uit die atmosfeer en omskep dit in koolhidrate (om te groei). En uiteindelik stel hulle weer suurstof in die atmosfeer vry. Studies toon dat ’n boom oor ’n tydperk van 15 jaar omtrent 500kg koolstof opberg.

 

Groen isolasie

Struike teen ’n noordermuur help om ’n huis koeler te hou, terwyl dit skadu oor

die grond gooi sodat dit meer koolstof kan behou. Klimplante teen die mure

van jou huis sorg vir isolasie, verlaag die binnetemperatuur met tot 5% in die somer en kan in die winter help dat minder hitte deur die mure ontsnap.

 

Water buite, koel binne

Bly koeler in die somer deur ’n poel of fontein so te plaas dat die wind daaroor waai voor dit jou huis bereik. Skep ’n “windtonnel” met plante om die lugvloei te stuur na waar jy dit wil hê.

 

Vermy chemikalieë en kunsmis

Dié produkte het ’n groot koolstofvoetspoor vanweë die grondstowwe waarvan dit gemaak word, en die energie wat die vervaardiging, en die vervoer daarvan

tot by jou tuinsentrum, verg.

 

Gebruik natuurlike produkte

Organiese produkte sit koolstof terug in die grond (in die vorm van

koolhidrate). Gebruik dus kompos en kies grondopknappers, grasperk-bolae en deklae van organiese materiale. Organiese plaagbeheer is ook verkieslik. As jy boonop jou eie plaagdoders maak, kan jy jou koolstofvoetspoor verder verklein omdat jy nêrens heen hoef te ry om dit te koop nie.

 

Maak jou eie kompos

Om jou eie kompos te maak is ’n doeltreffende manier om jou tuin en die omgewing te bevoordeel. Dit help jou om:

• afval wat gewoonlik weggegooi word, te herwin en weer te gebruik;

• nie organiese afval na opvulterreine te stuur en die metaangasvlak op te stoot nie; • die CO2 wat vrygestel word om afval na opvulterreine te vervoer, te verminder;

• die behoefte aan chemiese misstowwe en insekdoders te verminder.

 

Verryk met organiese materiaal

Grond is die heel beste bergingsplek vir koolstof, want dit bevat organiese materiaal wat van plante, diere, swamme en bakterieë afkomstig is. Sowat 60% van die organiese koolstof in die grond is in ’n vorm wat stewig aan kleideeltjies klou grond wat met organiese materiaal verryk word, is dus ’n baie stabiele bergingsplek waar koolstof baie lank gestoor kan word.

 

Plant ’n kostuin

Deur jou eie vrugte en groente te kweek en organiese kunsmis te gebruik, kan jy jou huishoudelike koolstofvoetspoor verklein – veral as jy geen chemikalieë gebruik

nie. Geen vervoer is ook nodig om die vars produkte van die plaas na die mark, van daar na die winkel en uiteindelik by jou huis te kry nie.

 

Plant metgeselle

Metgeselplante help mekaar wanneer hulle langs mekaar groei. Bepaalde kombinasies help om die oes te vergroot, terwyl ander plante weer ongewenste tuinplae beheer.

 

Bedek die grond

Plante vang koolstof in hul weefsel vas en verhoog die hoeveelheid organiese materiaal (koolhidrate) wat na die grond kan terugkeer. Maar die hitte van die

son kan dié materiaal laat afbreek en koolstofdioksied in die atmosfeer vrystel. Keer dit deur waterwys grondbedekkers te plant of organiese deklae soos denne- naalde, stukkies bas, perskepitte of halfverrotte kompos tussen plante te gooi.

 

Moenie onnodig omspit nie ’n Omdolwery droog net die grond uit en breek organiese materiaal in die grond af. Minimumbewerking bewaar organiese materiaal, stabiliseer die grondstruktuur en verminder erosie, wat help om die vlak van organiese koolstof in die grond te verhoog.

 

 

Hou grassnysels en blare wat afval

Los grassnysels net so op die gras. Namate dit afbreek, stel dit voedingstowwe in die grond vry. Blare wat afval, werk goed as ’n gronddeklaag. Belê in ’n snippermasjien

’n Blaarvreter is ’n noodsaaklike stuk toerusting vir koolstofbewuste tuiniers, want hiermee kan jy blare, takkies en snoeisels fynkap en as ’n deklaag gebruik. Óf jy kan dit op die komposhoop gooi.

 

Hergebruik en herwin

Suid-Afrikaners produseer 540 miljoen

ton afval per jaar, waarvan 70-80% herwin en weer gebruik kan word. Deur jou afval te herwin help jy nie net om natuurlike hulpbronne te bewaar nie, maar jy lewer ook ’n klein dog belangrike bydrae om wêreldwye klimaatsverandering teen

te werk. As jy herwin, help jy ook om steenkoolgeproduseerde energie te bewaar sodat minder CO2 in die atmosfeer vrygestel word. Minder energie word ook gebruik om nuwe produkte uit herwinde eerder as rou materiaal te vervaardig.

 

Life is a Garden is ’n bemarkingsinisiatief van die Suid-Afrikaanse Kwekeryvereniging. Besoek lifeisagarden.co.za vir nog inligting.