Pienkvoete op pad?

[divider]

DEUR Johané Neilson

Koekies maak wonderlike dankie-sê-geskenkies vir troues, verjaardagetes en ook by ’n ooievaarstee. ’n Pakkie goue, bros gemmerbroodmannetjies, of selfs net een pragtig versierde vormkoekie, kan bydra tot die tafeldekor en sal gaste baie spesiaal laat voel. Al wat jy nodig het is ’n lekker resep en ’n bietjie kreatiwiteit.

Gemmerkoekies met lemmetjie

Dis interessant hoe lekker dié ou staatmaker smaak wanneer jy lemmetjieskil byvoeg.

Maak: sowat 30-35 koekies
Bereidingstyd:
15 minute
Oondtemperatuur:
180 °C
Baktyd:
10 minute per bakplaat

• 355 ml (200 g) koekmeel
• 2,5 ml elk kremetart en koeksoda
• 10 ml fyn gemmer
• 125 g botter (kamertemperatuur)
• 150 ml (125 g) strooisuiker
• 30 ml gouestroop
• 5 ml fyngerasperde lemmetjieskil
• 1 eiergeel

1 Voorverhit die oond. Voer 2 bakplate met bakpapier uit.

2 Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak en voeg ’n knippie sout by.

3 Room die botter en strooisuiker tot lig en donsig. Roer die gouestroop, lemmetjieskil en eiergeel by. Voeg die droë bestanddele by en klits die mengsel tot gemeng.

4 Rol die deeg sowat 5 mm dik uit en sny vormpies uit. Rangskik die koekies op die voorbereide bakplate en bak vir sowat 10-12 minute of tot goudbruin en gaar. Laat die koekies op ’n draadrakkie afkoel.

ginger snaps
Voeg ’n boodskappie by ’n stapel koekies of verpak dit in ’n deurskynende sakkie met ’n gedrukte boodskappie daarop. Sit ’n pakkie by elke gedekte plek aan tafel neer.

Ek versamel koekiedrukkers en was kinderlik opgewonde toe ek ’n stelletjie Mini Baby- tekstuurkoekiedrukkers by die bakwinkel The Baking Tin in Ottery raakloop. My plan is om baba-klerestelletjies te bak as geskenkies vir die ooievaarstee van ’n goeie vriendin. Ek is mal oor die driedimensionele effek wat die tekstuurstelletjie aan kitsversielsel gee. En dis so maklik om te gebruik – kyk net hier!

The Baking Tin is propvol bakbenodigdhede in alle groottes en vorms. Besoek gerus die winkel as jy in die area is of loer op hul webtuiste, thebakingtin.co.za.